Die beskrywing van die gedig



 Hoewel die spreker die gedig vanuit ’n eerstespersoonsperspektief aan die leser bied, en die gedig deurgaans die voornaamwoordelike benoemings “ek” en “hy” handhaaf, is dit “sterk gesublimeer … [en net so sterk] onthef aan die enkele ek-[hy]-geval” (Antonissen 1966: 181) van ’n spesifieke liefdesverhouding. Dus verkry die gedig betekenis binne die veel wyer, universele raamwerk van die liefde se verval. Oor die identitiet van die “hy” waarna die spreker deurgaans in die gedig verwys, kan daar net gespekuleer word. Moontlik verwys dit na Jack Cope, Jonker se groot liefde, wat in Junie 1963 sy verhouding met haar beëindig het (Rook en Oker word immers eers in Oktober 1963 gepubliseer). Hoe dit ookal sy, is die spesifieke identifikasie van die “hy” nie soseer van belang nie – dit is eerder belangrik dat die gedig (en die liefdesbreuk wat dit voorstel) ’n universele gehoor het.
Haar liefdesteleurstelling is vir die spreker ’n bitterbessie wat elke nuwe “dagbreek” (reëls 1 en 19) en elke dag se “son” (reëls 2 en 20) met sy bitter, swart sap bevlek: soos die beeld van haar geliefde, is haar teleurstelling in hul liefde alomteenwoordig: dit affekteer elke dag wat sy sonder hom, maar met herinneringe aan hom, deurbring. Die beeld is besonder effektief vanweë die sintuiglike assosiasies wat dit by die leser ontlok: ’n bitterbessie is ten ene male swart, en roep die swaar, donker toestand van haar gemoed op; die ‘swartgalligheid’ wat met ’n liefdesteleurstelling gepaard gaan. Die bessie is ook onsmaaklik, vandaar die assosiasie met die figuurlike ‘bitter’ smaak wat ’n verbrokkelde liefdesverhouding op die palaat van die gekweste geliefde laat. Letterlik geïnterpreteer, veral wanneer in ag geneem word dat die gedig tydens ’n dagbreek afspeel, verwys die bitterbessie se ronde vorm en donker kleur eenvoudig na die vorm en kleur van ’n jong son wat stadig uit ’n donker hemelruim styg. Interessant ook, is die parallel wat daar tussen die geliefde “hom” en die bitterbessie son gesuggereer word. Nie net word die son in die simboliek met die manlike geassosieer nie, maar versreël twee se “son” en versreël vier se “hom” rym, en kan dus tegnies as ’n eenheid gelees word. Indien die son dan die spreker aan ’n bitterbesssie (met sy menigte onaangename konnotasies) herinner, wek haar geliefde nou dieselfde wrewel in haar op.
Interessant ook is die gebruik van die “spieël” (reël 3) beeld. Volgens Antonissen is geliefdes in Jonkers se poësie “mekaar se gesig, mekaar se komplementêre liggaam [en] mekaar se spieël” (Antonissen 1966: 181). Dus verkry die “gebreek[te]” (reël 3) spieël in hierdie gedig besondere betekenis. Die twee geliefdes se gesamentlike weerkaatsing in die oppervlak van ’n spieël dui op ’n intense samesyn en intimiteit tussen hulle; in die spieël is hulle in der waardheid één. Verder sal hulle dit “willens of onwillens [blý] … ook nadat die feitlike saam-wees verbreek of vir goed beëindig is” (Antonissen 1966: 181). Die gebreekte spieël dui dus op die verbrokkeling van ’n samesyn wat beide geliefdes diep geraak het – indien hulle mekaar weerpieël het en die spieël nou in skerwe lê, lê hulle gesamentlike identiteit en die wyse waarop hulle mekaar aangevul het, ook gebroke, maar nogtans intiem deel van beide – die skerp skerwe bly steeds “tussen” (reël 4) hulle.
Daar is verder die suggestie van die spreker se afhanklikheid van haar geliefde vir rigting in, en bevestiging van, haar lewe. Hy is die metaforiese “grootpad” (reël 5) waarlangs sy deur haar lewe “draf” (reël 6), en die veradderlike verraad van sy leuens, oftewel “woorde” (reël 8), word die “paadjies” (reël 7) wat haar van ’n sinvolle lewensroete laat afdwaal. Die spreker se gelukkige nostalgie is van korte duur: die genotvolle “dennebos herinnering[e]” (reël 9) word gou “vergeet” (reël 10) en eerder vervang met die onaangename kennis van haar eie deelname in die verbrokkeling van haar liefde, die besef dat sy “ook verdwaal” (reël 11) het: sy word summier tot hierdie harde werklikheid teruggebring wanneer sy in haar “leed” (reël 12) “trap” (reël 12).  Die spreker se werklike vervreemding van haar geliefde word eers aan haar duidelik na die verbrokkeling van hul verhouding. Sy besef dan hy is die “[p]apegaai” (reël 13) wat sy ware identiteit agter  ’n “koggel” (reël 16) verberg en aan haar slegs ’n “eggo” (reël 13), ’n illusie van homself, verklap het, wat sy in haar liefde en naiwiteit as die ware hy probeer aanvul het. Sy is dus eerder bekend met sy skynbeeld as sy ware identiteit terwyl hy die steeds papegaai bly wat haar voortdurend, en met veel sukses, “kierang” (reël 14). Sy kan hom nie eien nie, sy koggel bring aan haar “geen antwoord” (reël 17) nie.  Hier kom die spreker se verbitterdheid en ontnugtering met die liefde na vore in die gedig. Inderdaad is dit haar besef dat die liefde nie is soos sy dit wil ervaar nie: waar sy waarheid en deursigtigheid verlang, ontdek sy slegs skyn. Dus word die “bitterbessie dagbreek” (reël 1) die metaforiese aanduiding van ’n nuwe begin vir die spreker en haar ontvangs van ’n realistiese, maar nietemin bitter en teleurstellende, insig in die liefde.“Kabouterliefde”, ook uit Rook en Oker (1963), is ’n speelse gedig wat Jonker vir haar dogter Simone geskryf het en handel oor die spreker, oftewel verteller, se nagtelike avontuur met ’n vrolike kabouter en verskeie wesens van die hemelruim en natuur.

Comments

Popular posts from this blog

Meer oor Ingrid Jonker