Meer oor Ingrid Jonker

Ingrid Jonker

Biografiese inligting

Ingrid Jonker is op 19 September 1933 op Douglas in die Noord-Kaap gebore. Haar ma is dood toe sy nog klein was, en sy moes as kind ’n paar keer rondtrek. Haar pa, Abraham H Jonker, was ’n Nasionale Party-politikus, en hulle het nie goed oor die weg gekom nie. Sy het aan Wynberg Meisieskool gematrikuleer en het daarna by boekwinkels, uitgewers en drukkerye gewerk. Haar debuutbundel, Ontvlugting, verskyn in 1956, en sy ontvang in 1964 die APB-prys vir haar tweede bundel, Rook en Oker. Die prysgeld en ’n studiebeurs van Anglo American stel haar in staat om oorsee te reis. Haar dogter, Simone, wat ’n belangrike rol in Ingrid se gedigte speel, is gebore uit haar huwelik met Pieter Venter van wie sy later geskei is.
Ingrid word gegroepeer onder die “Sestigers” waarvan André P Brink en Jan Rabie ook deel was.
Sy pleeg selfmoord deur op 19 Julie 1965 by Drieankerbaai die see in te loop. Haar derde en laaste bundel, Kantelson, het postuum in 1966 verskyn.

  • Oudpresident Nelson Mandela het tydens die geskiedkundige Parlementsopening in Mei 1994 haar gedig “Die Kind” voorgelees. Ingrid het dié gedig geskryf na aanleiding van die skietvoorval in 1960 by Sharpeville.
  • Haar vriende het in 1965 die Ingrid Jonker-prys ingestel wat jaarliks toegeken word aan ’n digter wat in Afrikaans of Engels debuteer.
  • Ingrid se gedigte is deur die jare deur kunstenaars soos Laurika Rauch, Laurinda Hofmeyr, Marimba en Anneli van Rooyen getoonset. Chris Chameleon se album Ek herhaal jou, waarop hy 14 van haar gedigte getoonset het, is in 2005 uitgereik. Dit was ’n blitsverkoper.
  • In 2002 het die Nederlandse dokumentêr oor Ingrid, Korreltjie niks is my dood, ’n Silwer Roos op die TV-fees by Montreux gewen.
  • Haar ma het in 1943 in die psigiatriese hospitaal Valkenburg gesterf. Ingrid is ook in 1961 daar opgeneem. In 2007 is ’n dokumentêr, Ingrid Jonker, her Lives and Time, deur die Mosambiek-gebore rolprentmaker Helena Nogueira in Suid-Afrika uitgereik.
  • Ingrid het ook ’n kort toneelstuk, ’n Seun na my hart, geskryf asook ’n paar kortverhale soos Die bok.
  • In 2007, as deel van die Sunday Times se Heritage Project, het die kunstenaar Tyrone Appollis ’n kunswerk by Gordonsbaai se strand opgerig ter herdenking aan Ingrid Jonker.
Bron: Mieliestronk

Comments

Popular posts from this blog